1En toe die Filistyne in die dae hulle leër versamel vir oorlog om teen Israel te veg, sê Agis vir Dawid: Jy moet goed verstaan dat jy met my saam in die leër moet uittrek, jy en jou manne. 2Daarop sê Dawid vir Agis: Goed, u weet wel wat u dienaar moet doen. En Agis sê vir Dawid: Goed, ek sal jou vir altyd aanstel as my lyfwag. 3En Samuel het gesterwe, en hulle het oor hom gerouklaag, die hele Israel, en hom begrawe in Rama, naamlik in sy stad. En Saul het die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder. 4Daarop het die Filistyne bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan in Sunem. En Saul het die hele Israel versamel, en hulle het laer opgeslaan op Gilboa. 5Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe. 6En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie -- nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie. 7En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my 'n vrou wat 'n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Daar is 'n vrou, 'n dodebesweerster, in Endor. 8Daarop het Saul hom onkenbaar gemaak en ander klere aangetrek en weggegaan, hy en twee manne saam met hom. En toe hulle in die nag by die vrou aankom, sê hy: Voorspel tog vir my deur die gees van 'n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem. 9Maar die vrou sê vir hom: Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan 'n val vir my op om my dood te maak? 10Toe sweer Saul vir haar by die HERE en sê: So waar as die HERE leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie! 11En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Laat Samuel vir my opkom. 12Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self. 13En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien 'n bonatuurlike wese uit die aarde opkom. 14Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: 'n Ou man kom op met 'n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer. 15En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen. 16En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? 17Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. 18Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Amalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. 19En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee. 20En Saul het plotseling in sy volle lengte op die grond geval en baie bevrees geword deur die woorde van Samuel; buitendien was daar geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen brood geëet nie. 21Daarop gaan die vrou na Saul; en toe sy sien dat hy baie verskrik was, sê sy vir hom: Kyk, u dienares het na u geluister en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u tot my gespreek het. 22En nou moet u self tog luister na u dienares, en laat ek u 'n stukkie brood voorsit, en eet, dat daar krag in u kan wees as u verder gaan. 23Maar hy het geweier en gesê: Ek wil nie eet nie. Maar toe sy dienaars en die vrou ook by hom aandring, het hy na hulle geluister en opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit. 24En die vrou het 'n kalf in die stal by die huis gehad en dit gou geslag, en sy het meel geneem en geknie en daar ongesuurde koeke van gebak. 25Toe het sy dit aangebring voor Saul en voor sy dienaars, en hulle het geëet en opgestaan en dieselfde nag weggegaan.