1Ag, as julle my net 'n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar! 2Want ek is jaloers oor julle met 'n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as 'n reine maagd aan Christus voor te stel. 3Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 4Want as iemand kom en 'n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle 'n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of 'n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval. 5Want ek reken dat ek niks agterstaan by die uitnemende apostels nie. 6En al is ek ook onbedrewe in woord, dan tog nie in kennis nie; maar ons het ten volle in alle opsigte openbaar geword by julle. 7Of het ek sonde gedoen deur my te verneder sodat julle verhoog kan word, omdat ek die evangelie van God kosteloos aan julle verkondig het? 8Ander gemeentes het ek beroof deur vergoeding te neem om julle te bedien; en toe ek by julle teenwoordig was en gebrek gehad het, het ek niemand lastig geval nie. 9Want in my gebrek het die broeders voorsien wat van Macedonië gekom het. En ek het my in alles in ag geneem om julle nie te beswaar nie, en ek sal my in ag neem. 10So seker as die waarheid van Christus in my is, sal hierdie roem in die streke van Ach je my nie ontneem word nie. 11Waarom? Omdat ek julle nie liefhet nie? God weet dit. 12Maar wat ek doen, sal ek nog doen om die aanleiding af te sny vir die wat 'n aanleiding wil hê, sodat hulle in die saak waar hulle op roem, net soos ons bevind mag word. 13Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 14En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in 'n engel van die lig. 15Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke. 16Weer sê ek dat niemand moet dink dat ek dwaas is nie; of anders, neem my maar aan as 'n dwaas, sodat ek ook 'n bietjie kan roem. 17Wat ek spreek, sê ek nie vanweë die Here nie, maar as in dwaasheid, in hierdie vertroue dat ek mag roem. 18Terwyl baie na die vlees roem, sal ek ook roem. 19Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is! 20Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beetneem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan. 21Tot my skande moet ek erken dat ons daarvoor te swak was; maar as iemand dit aandurf -- ek spreek in dwaasheid -- ek durf ook. 22Is hulle Hebreërs? Ek ook. Is hulle Israeliete? Ek ook. Is hulle die nakomelinge van Abraham? Ek ook. 23Is hulle dienaars van Christus? -- ek praat in uitsinnigheid -- ek nog meer: in arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. 24Vyf maal het ek van die Jode ontvang veertig houe op een na. 25Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, 'n nag en 'n dag het ek op die diepwater deurgebring -- 26dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; 27in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue en naaktheid. 28Behalwe dit alles my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. 29Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word 'n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie? 30As daar geroem moet word, sal ek in my swakhede roem. 31Die God en Vader van onse Here Jesus Christus, geseënd tot in ewigheid, weet dat ek nie lieg nie. 32In Damaskus het die goewerneur van koning Ar,tas die stad van die Damask,ners laat bewaak om my te vang; 33en ek is in 'n mandjie deur 'n venster in die muur neergelaat en het aan sy hande ontkom.