1En n die dood van Saul, toe Dawid terug was van die verslaan van die Amalekiete en Dawid twee dae in Siklag gebly het, 2kom daar op die derde dag 'n man uit die leër, van Saul af, met geskeurde klere en grond op sy hoof. En toe hy by Dawid kom, val hy op die grond en buig hom neer. 3En Dawid sê vir hom: Waar kom jy vandaan? En hy antwoord hom: Ek het ontvlug uit die leër van Israel. 4Verder sê Dawid vir hom: Wat het gebeur? Vertel my tog. Toe antwoord hy: Die manskappe het uit die geveg gevlug, en baie van die manskappe het ook geval en gesterwe; ja, ook Saul en sy seun Jonatan is dood. 5En Dawid vra die jongman wat hom die boodskap gebring het: Hoe weet jy dat Saul en sy seun Jonatan dood is? 6Daarop sê die jongman wat hom die boodskap gebring het: Ek was bygeval op die gebergte Gilboa, en kyk, Saul het op sy spies geleun, terwyl die strydwaens en perderuiters hom agternasit; 7en hy het agter hom omgekyk en my gesien en my geroep, en ek het gesê: Hier is ek. 8Toe vra hy my: Wie is jy? En ek antwoord hom: Ek is 'n Amalekiet. 9Daarop sê hy vir my: Kom staan tog by my en maak my van kant, omdat 'n duiseling my bevang het; want my lewe is nog heeltemal in my. 10En ek het by hom gaan staan en hom van kant gemaak, want ek het geweet dat hy n sy val nie sou leef nie; en ek het die kroon wat op sy hoof en die armband wat om sy arm was, geneem en dit hier na my heer gebring. 11Toe gryp Dawid sy klere en skeur dit; net so al die manne wat by hom was. 12En hulle het gerouklaag en geween en gevas tot die aand toe oor Saul en oor sy seun Jonatan en oor die volk van die HERE en oor die huis van Israel, omdat hulle deur die swaard geval het. 13Verder sê Dawid aan die jongman wat hom die boodskap gebring het: Waar kom jy vandaan? En hy antwoord: Ek is die seun van 'n vreemde man, 'n Amalekiet. 14En Dawid sê vir hom: Hoe? Jy was nie bevrees om jou hand uit te steek om die gesalfde van die HERE om te bring nie? 15Daarop roep Dawid een van die jongmanne en sê: Kom nader, val op hom aan! En die het hom neergeslaan, dat hy gesterf het. 16En Dawid het vir hom gesê: Jou bloed is op jou hoof, want jou mond getuig teen jou, omdat jy sê: Ek het die gesalfde van die HERE gedood. 17Toe het Dawid hierdie klaaglied aangehef oor Saul en oor sy seun Jonatan, 18en hy het beveel om die kinders van Juda die Booglied te leer; kyk, dit is geskrywe in die Boek van die Opregte. 19Die sieraad, o Israel -- op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval! 20Vertel dit nie in Gat, verkondig dit nie op die strate van Askelon nie, sodat die dogters van die Filistyne hulle nie verheug, die dogters van die onbesnedenes nie jubel nie! 21Berge van Gilboa, mag op julle geen dou en geen reën en geen velde van offergawes wees nie! Want daar is die skild van die helde weggegooi, die skild van Saul, sonder dat dit met olie gesalf is. 22Sonder die bloed van die gesneuweldes, sonder die vet van die helde het die boog van Jonatan nie agteruitgewyk en die swaard van Saul nie leeg teruggekeer nie. 23Saul en Jonatan, die bemindes en lieflikes, is in hulle lewe en in hulle dood nie geskeie nie. Vinniger as arende was hulle, sterker as leeus. 24Dogters van Israel, ween oor Saul, wat julle weelderig beklee het met skarlaken, wat goue versiersels aangebring het op julle gewaad. 25Hoe het die helde geval diep in die geveg! Jonatan lê verslaan op jou hoogtes. 26Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue. 27Hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan!