1Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle; 2en dat ons verlos mag word van die verkeerde en slegte mense, want die geloof is nie die deel van almal nie. 3Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en bewaar van die Bose. 4En ons vertrou aangaande julle in die Here dat julle doen en ook sal doen wat ons julle beveel. 5Mag die Here julle harte rig tot die liefde van God en die lydsaamheid van Christus! 6Ons beveel julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle jul onttrek aan elke broeder wat onordelik wandel en nie volgens die oorlewering wat hy van ons ontvang het nie. 7Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; 8ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. 9Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as 'n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg. 10Want ook toe ons by julle was, het ons julle dit altyd beveel: as iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie. 11Want ons hoor dat sommige onder julle onordelik wandel, dat hulle nie werk nie, maar bemoeisiek is. 12Sulke mense beveel en vermaan ons deur onse Here Jesus Christus, om rustig te werk en hulle eie brood te eet. 13En julle, broeders, moet nie in goeddoen verflou nie. 14En as iemand aan ons woord in hierdie brief nie gehoorsaam is nie, teken die man en hou geen gemeenskap met hom nie, sodat hy skaam kan word. 15En beskou hom nie as 'n vyand nie, maar vermaan hom as 'n broeder. 16En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse! Mag die Here met julle almal wees! 17Die groete van Paulus, met my eie hand, wat 'n teken is in elke brief; so skryf ek. 18Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.