1Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. 2Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, 3sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, 4verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; 5mense wat 'n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. 6Want uit hulle is die wat in die huise insluip en arme vroue gevange neem wat met sondes belaai is en deur allerhande begeerlikhede gedryf word, 7wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. 8En net soos Jannes en Jambres Moses teëgestaan het, so staan ook hierdie mense die waarheid teë, mense verdorwe in die verstand, onbetroubaar ten opsigte van die geloof. 9Maar hulle sal nie verder voortgaan nie, want hulle dwaasheid sal vir almal duidelik wees, soos ook die van daardie manne geword het. 10Maar jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, planne, geloof, lankmoedigheid, liefde, lydsaamheid, 11vervolginge, lyding, soos my te beurt geval het in Antioch¡ë, in Ikonium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos. 12En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. 13Maar goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, hulle wat verlei en verlei word. 14Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, 15en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. 16Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 17sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.