1So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het. 2Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van K,rijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal. 3En Ek sal die regeerder onder hulle uitroei en al hulle vorste saam met hom doodmaak, sê die HERE. 4So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Juda, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die wet van die HERE verwerp het en sy insettinge nie onderhou het nie; en hulle leuengode het hulle verlei waar hulle vaders agter aan geloop het. 5Daarom sal Ek 'n vuur slinger in Juda, en dit sal die paleise van Jerusalem verteer. 6So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Israel, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hulle die regverdige vir geld verkoop het en die behoeftige vir 'n paar skoene. 7Hulle wat daarna hyg dat die stof van die aarde op die hoof van die armes kom, en wat die weg van die ellendiges buig; en die man en sy vader gaan na dieselfde jongedogter om my heilige Naam te ontheilig. 8En hulle strek hul uit op verpande klere by elke altaar, en die wyn van die wat beboet is, drink hulle in die huis van hul god. 9En tog het k die Amoriet voor hulle uit verdelg wie se hoogte was soos die hoogte van die seders, en hy was sterk soos die eikebome; maar Ek het sy vrug daarbo en sy wortels daaronder verdelg. 10Ook het Ek julle uit Egipteland laat optrek en julle veertig jaar lank in die woestyn gelei, om die land van die Amoriet in besit te neem. 11En Ek het uit julle seuns profete en uit julle jongelinge nasireërs verwek. Is dit nie so nie, o kinders van Israel? spreek die HERE. 12Maar julle het die nasireërs wyn laat drink en aan die profete bevel gegee en gesê: Julle mag nie profeteer nie! 13Kyk, Ek laat dit onder julle kraak, soos 'n wa kraak wat vol gerwe is; 14sodat die wat gou is, nie kan ontvlug nie, en die sterke sy krag nie kan ontwikkel en die held sy lewe nie kan red nie. 15En die boogskutter sal nie bly staan en die wat gou is op sy voete, nie vrykom nie, en die perderuiter sal sy lewe nie red nie. 16En die dapperste onder die helde sal op die dag naak wegvlug, spreek die HERE.