1Dit het die Here HERE my laat sien -- kyk, Hy het sprinkane geformeer toe die na-gras begin uitspruit het; en kyk, dit was die na-gras nadat die snysels van die koning af was. 2En toe hulle al die gewasse van die land afgeëet het, sê ek: Here HERE, vergeef tog! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein. 3Toe het die HERE berou gekry oor hierdie saak. Dit sal nie gebeur nie, het die HERE gesê. 4Dit het die Here HERE my laat sien -- kyk, die Here HERE roep om 'n regstryd te voer deur vuur, en dit het die groot watervloed verteer en sou die akkerland verteer het. 5Toe sê ek: Here HERE, hou tog op! Hoe sal Jakob staande bly? want hy is klein. 6Die HERE het berou gekry oor hierdie saak. Dit sal ook nie gebeur nie, het die Here HERE gesê. 7Dit het Hy my laat sien -- kyk, die Here het op 'n loodregte muur gestaan, en daar was 'n skietlood in sy hand. 8Toe sê die HERE vir my: Wat sien jy, Amos? En ek het geantwoord: 'n Skietlood. Daarop sê die Here: Kyk, Ek gaan 'n skietlood aanlê in die midde van my volk Israel. Ek sal hom verder nie meer verbygaan nie. 9En die hoogtes van Isak sal verwoes word, en die heiligdomme van Israel sal puinhope wees, en teen die huis van Jerobeam sal Ek met die swaard optree. 10Toe het Am sia, die priester van Bet-el, Jerobeam, koning van Israel, laat weet: Amos het 'n sameswering gesmee teen u midde-in die huis van Israel; die land sal dit onder al sy woorde nie kan uithou nie. 11Want so het Amos gesê: Jerobeam sal deur die swaard sterwe, en Israel sal sekerlik uit sy land in ballingskap gaan. 12Toe sê Am sia vir Amos: Gaan weg, siener, vlug na die land Juda en eet daar brood en profeteer daar! 13Maar in Bet-el mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is 'n koninklike heiligdom en 'n tempel van die ryk. 14Toe het Amos geantwoord en aan Am sia gesê: Ek was geen profeet en ook geen profete-seun nie; maar ek was 'n veewagter en kweker van wildevyebome. 15Maar die HERE het my agter die kleinvee weggeneem, en die HERE het aan my gesê: Gaan heen, profeteer teen my volk Israel. 16Hoor dan nou die woord van die HERE! Jy sê: Jy mag nie teen Israel profeteer nie, en jy mag geen woorde laat druppel teen die huis van Isak nie. 17Daarom, so sê die HERE: Jou vrou sal in die stad hoereer, en jou seuns sowel as jou dogters sal deur die swaard val, en jou grond met die meetsnoer verdeel word, en jy self sal in 'n onrein land sterwe, en Israel sekerlik in ballingskap uit sy land gaan.