1En in die tyd sal M¡gael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op die tyd nie; maar in die tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan. 2En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. 3En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos. 4En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder. 5En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier. 6En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly? 7Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: 'n Tyd, tye en 'n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word. 8En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge? 9En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe. 10Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan. 11En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend twee honderd en negentig dae verloop. 12Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend drie honderd vyf en dertig dae bereik. 13En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.