1As die HERE jou God die nasies uitroei wie se land die HERE jou God jou sal gee, en jy hulle uit hul besitting verdrywe en in hulle stede en in hulle huise woon, 2dan moet jy vir jou drie stede afsonder in jou land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem. 3Jy moet vir jou die pad regmaak en jou grondgebied wat die HERE jou God jou laat erwe, in drie dele verdeel, sodat elkeen wat 'n doodslag begaan het, daarheen kan vlug. 4En dit is die saak van hom wat 'n doodslag begaan het, wat daarheen vlug, dat hy kan lewe: hy wat sy naaste sonder opset doodslaan, terwyl hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie; 5en hy wat saam met sy naaste in die bos gaan om hout te kap en sy hand swaai met die byl om die boom af te kap, en die yster glip van die steel af en tref sy naaste, sodat hy sterwe -- hy moet in een van hierdie stede vlug om in die lewe te bly; 6sodat die bloedwreker hom wat 'n doodslag begaan het, nie agtervolg as sy hart verhit is en hom inhaal -- omdat die pad lank is -- en hom doodslaan nie, terwyl hy die dood nie verdien het nie, omdat hy hom van gister en eergister af nie vyandig was nie. 7Daarom gee ek jou bevel en sê: Drie stede moet jy vir jou afsonder. 8En as die HERE jou God jou grondgebied uitbrei, soos Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het, en jou die hele land gee wat Hy beloof het om aan jou vaders te gee 9-- as jy sorgvuldig al hierdie gebooie hou wat ek jou vandag beveel om dit te doen, om die HERE jou God lief te hê en altyd in sy weë te wandel -- dan moet jy vir jou nog drie stede by hierdie drie byvoeg, 10sodat geen onskuldige bloed vergiet word binne-in jou land wat die HERE jou God jou as erfenis sal gee, en bloedskuld op jou kom nie. 11Maar as iemand sy naaste vyandig is en hom voorlê en teen hom opstaan en hom lewensgevaarlik slaan, sodat hy sterwe, en hy in een van hierdie stede vlug, 12dan moet die oudstes van sy stad stuur en hom daarvandaan laat haal, en hulle moet hom in die hand van die bloedwreker oorgee, dat hy kan sterwe. 13Jou oog mag hom nie verskoon nie, maar jy moet die onskuldige bloed uit Israel wegdoen, dat dit met jou goed kan gaan. 14Jou naaste se grenslyn, deur die voorvaders getrek in jou erfdeel wat jy sal erwe in die land wat die HERE jou God jou sal gee om dit in besit te neem, mag jy nie verlê nie. 15Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal 'n saak van krag wees. 16As 'n kwaadwillige getuie teen iemand optree om van 'n oortreding teen hom te getuig, 17dan moet die twee manne wat die regsaak het, gaan staan voor die aangesig van die HERE, voor die priesters en die regters wat daar in die dae sal wees. 18En die regters moet terdeë ondersoek doen, en is die getuie 'n valse getuie, het hy vals teen sy broer getuig, 19dan moet julle met hom doen soos hy gedink het om met sy broer te doen; so moet jy dan die kwaad uit jou midde uitroei. 20En die ander moet dit hoor en vrees en nie meer verder by jou so iets verkeerds doen nie. 21En jou oog mag nie verskoon nie: lewe vir lewe, oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet.