1Verder het die HERE vir Moses gesê: Nog een plaag sal Ek oor Farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan laat trek. As hy julle geheel en al laat trek, sal hy julle selfs hiervandaan wegdrywe. 2Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis. 3En die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk. 4Toe sê Moses: So het die HERE gespreek: Omtrent middernag trek Ek uit dwarsdeur Egipte; 5dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterwe, van Farao se eersgeborene af wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee. 6En daar sal 'n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie. 7Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal 'n hond sy tong verroer nie, van die mense af tot die diere toe, dat julle kan weet dat die HERE 'n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete. 8Dan sal al hierdie dienaars van u na my toe afkom en voor my neerbuig en sê: Trek uit, jy en die hele volk wat jou volg. En daarna sal ek uittrek. Toe het hy van Farao af weggegaan in gloeiende toorn. 9En die HERE het vir Moses gesê: Farao sal na julle nie luister nie, sodat my wonders in Egipteland baie kan word. 10En Moses en A„ron het al hierdie wonders voor Farao gedoen. Maar die HERE het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie.