1Toe het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: 2Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle 'n heiligheid, 'n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. 3Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie. 4Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dit is die saak wat die HERE beveel het: 5Neem van julle besittings 'n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper; 6en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; 7en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; 8en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; 9en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas. 10En almal wat kunsvaardig is onder julle, moet kom en alles maak wat die HERE beveel het: 11die tabernakel, sy tent en sy dekkleed, sy hakies en sy style, sy dwarshoute, sy pilare en sy voetstukke; 12die ark en sy draaghoute, die versoendeksel en die voorhangsel tot bedekking; 13die tafel met sy draaghoute en al sy gereedskap, en die toonbrode; 14en die kandelaar tot verligting, met sy gereedskap en sy lampe, en die olie vir die kandelaar; 15en die reukaltaar met sy draaghoute, en die salfolie en die reukwerk van speserye, en die bedekking vir die ingang van die tabernakel; 16die brandofferaltaar met sy traliewerk van koper, sy draaghoute en al sy gereedskap; die waskom met sy voetstuk; 17die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking van die poort van die voorhof; 18die penne van die tabernakel en die penne van die voorhof met hulle lyne; 19die kunstige klere om in die heiligdom te dien, die heilige klere vir die priester A„ron en die klere van sy seuns om die priesteramp te bedien. 20Toe het die hele vergadering van die kinders van Israel van Moses af weggegaan. 21En elkeen wie se hart hom opgewek en elkeen wie se gees hom aangedryf het, het gekom: hulle het die offergawe van die HERE gebring vir die werk aan die tent van samekoms en vir sy hele bediening en vir die heilige klere; 22die manne het met die vroue gekom, elkeen wat gewillig van hart was; hulle het gespes en ringe en vingerringe en halssierade, allerhande goue goed, gebring. En elkeen wat 'n offer van goud aan die HERE gewy het, 23en elkeen wat in besit was van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle, het dit gebring. 24Elkeen wat 'n offergawe van silwer of koper kon aanbied, het die offergawe van die HERE gebring; en elkeen wat akasiahout besit het, wat oral by die werk kon gebruik word, het dit gebring. 25En elke vrou wat kunsvaardig was, het met haar eie hande gespin en die spinsel gebring: die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en die fyn linne. 26En al die vroue wie se hart hulle opgewek het deur kunsvaardigheid, het die bokhaar gespin. 27En die owerstes het die oniksstene gebring en die stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas, 28en die speserye en die olie vir die kandelaar en vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye. 29Elke man en vrou wie se hart hulle aangedryf het om iets by te dra vir al die werk wat die HERE deur die diens van Moses beveel het om te verrig -- as vrywillige offergawe aan die HERE het die kinders van Israel dit gebring. 30Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê: Kyk, die HERE het Bes leël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; 31en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk; 32en om kunstige planne uit te dink, om die uit te voer in goud en silwer en koper, 33en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk -- om werksaam te wees in allerhande kunsarbeid. 34Hy het dit ook in sy hart gegee om ander te onderrig, aan hom en aan Oholiab, die seun van Ah¡samag, van die stam van Dan. 35Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk te maak van 'n ambagsman en 'n kunstenaar en van 'n bewerker van veelkleurige goed in pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne, en van 'n wewer hulle wat al die werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink.