1Hulle het ook kunstige klere van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe gemaak om in die heiligdom te dien. Ook het hulle die heilige klere vir A„ron gemaak soos die HERE Moses beveel het. 2En hy het die skouerkleed gemaak van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. 3En hulle het van die goud dun plate geslaan, en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en in die fyn linne -- 'n kunstige werk. 4Hulle het daar skouerstukke aan gemaak wat aan mekaar vas was; aan die twee bo-ente was dit saamgevoeg. 5En die band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, soos die HERE Moses beveel het. 6Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in kassies van goud, gegraveer soos op 'n seëlsteen ingesny word, volgens die name van die kinders van Israel. 7En hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed bevestig as gedagtenisstene aan die kinders van Israel, soos die HERE Moses beveel het. 8Hy het ook die borstas van kunstige werk gemaak soos die werk van die skouerkleed; van goud, pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. 9Dit was vierkantig; dubbel gevou het hulle die borstas gemaak; 'n span sy lengte en 'n span sy breedte, dubbel gevou was dit. 10En hulle het daarin vier rye stene ingevul: 'n ry met 'n karneool, 'n topaas en 'n smarag was die eerste ry. 11En die tweede ry: 'n karbonkel, 'n saffier en 'n jaspis. 12En die derde ry: 'n hiasint, 'n agaat en 'n ametis. 13En die vierde ry: 'n chrisoliet, 'n oniks en 'n sardoniks; hulle is in kassies van goud vasgesit by hulle invulling. 14En die stene was volgens die name van die kinders van Israel twaalf, volgens hulle name. Soos op 'n seëlsteen uitgesny word, was hulle vir twaalf stamme, elkeen volgens sy naam. 15Hulle het ook by die borstas gedraaide kettings gemaak, soos toutjies gedraai, van suiwer goud; 16en hulle het twee goue kassies en twee goue ringe gemaak, en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borstas bevestig, 17en hulle het die twee goue toutjies aan die twee ringe aan die bo-ente van die borstas vasgemaak. 18Maar die twee ander ente van die twee toutjies het hulle aan die twee kassies vasgemaak en die dan aan die skouerstukke van die skouerkleed bevestig, aan die voorkant daarvan. 19Hulle het ook twee goue ringe gemaak en die aan die twee onder-ente van die borstas bevestig, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant. 20En hulle het twee goue ringe gemaak en die aan die twee skouerstukke van die skouerkleed bevestig, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die band van die skouerkleed. 21En hulle het die borstas, met sy ringe, aan die ringe van die skouerkleed met 'n pers toutjie vasgebind, sodat dit bo die band van die skouerkleed sou wees en die borstas nie van die skouerkleed kon afskuiwe nie, soos die HERE Moses beveel het. 22En hy het die mantel van die skouerkleed van wewerswerk gemaak, heeltemal van pers stof. 23En die opening van die mantel was in die middel daarvan soos die opening van 'n pantser; die opening het 'n soom rondom gehad, dat dit nie sou skeur nie. 24En aan die soom van die mantel het hulle granaatjies gemaak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. 25Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granaatjies gesit, aan die soom van die mantel rondom, tussen die granaatjies in: 26'n klokkie en 'n granaatjie, 'n klokkie en 'n granaatjie, aan die soom van die mantel rondom, vir die diens, soos die HERE Moses beveel het. 27Hulle het ook die rokke van fyn linne gemaak, van wewerswerk, vir A„ron en sy seuns; 28en die tulband van fyn linne en die pronkmusse van fyn linne en die linnebroeke van fyn dubbeldraad-linne; 29en die gordel van fyn dubbeldraad-linne en van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe, veelkleurige werk, soos die HERE Moses beveel het. 30Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op 'n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE. 31En hulle het 'n pers toutjie daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband te bevestig, soos die HERE Moses beveel het. 32So is dan al die werk aan die tabernakel van die tent van samekoms voltooi; en die kinders van Israel het dit gemaak net soos die HERE Moses beveel het; so het hulle dit gemaak. 33En hulle het die tabernakel na Moses gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy style, sy dwarshoute en sy pilare en sy voetstukke, 34en die dekkleed van rooigeverfde ramsvelle en die dekkleed van robbevelle en die voorhangsel tot bedekking; 35die ark van die Getuienis met sy draaghoute en die versoendeksel; 36die tafel met al sy gereedskap en die toonbrode; 37die suiwer kandelaar met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy gereedskap en die olie vir die kandelaar; 38verder die goue altaar en die salfolie en die reukwerk van speserye en die bedekking vir die ingang van die tent; 39die koperaltaar en sy kopertraliewerk, sy draaghoute met al sy gereedskap, die waskom en sy voetstuk; 40die behangsels van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, en die bedekking vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby behoort, en al die gereedskap vir die diens in die tabernakel van die tent van samekoms; 41die kunstige klere, om in die heiligdom te dien, die heilige klere van die priester A„ron en die klere van sy seuns, om die priesteramp te bedien. 42Net soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel die hele werk gemaak. 43En Moses het die hele werk bekyk -- en hulle het dit gemaak soos die HERE beveel het, so het hulle dit gemaak. Toe het Moses hulle geseën.