1Verder, hef jy 'n klaaglied aan oor die vorste van Israel, 2en sê: Wat was jou moeder? 'n Leeuin: tussen die leeus het sy gelê, onder die jong leeus het sy haar kleintjies grootgemaak. 3En sy het een van haar kleintjies opgekweek, 'n jong leeu het hy geword; en hy het geleer om prooi te verskeur, hy het mense geëet. 4En die nasies het van hom gehoor; in hulle vangkuil is hy gevang, en hulle het hom met hake na Egipteland gebring. 5En toe sy sien dat sy teleurgestel is, haar hoop verlore, het sy 'n ander een van haar kleintjies geneem, hom 'n jong leeu gemaak. 6En hy het rondgeloop onder die leeus, het 'n jong leeu geword en geleer om prooi te verskeur; hy het mense geëet. 7Hy het hulle weduwees beken en hulle stede verwoes; ja, die land en sy volheid was verskrik vanweë die geluid van sy gebrul. 8Toe het die nasies rondom uit die lande hulle teen hom opgestel en hul net oor hom uitgesprei; in hulle vangkuil is hy gevang. 9En hulle het hom in 'n hok gesit aan hake en hom na die koning van Babel gebring; hulle het hom in vestings gebring, dat sy stem nie meer gehoor sou word op die berge van Israel nie. 10Jou moeder was soos 'n wingerdstok in jou rustige tyd; by waters was dit geplant; dit was vrugbaar en vol ranke vanweë die baie waters. 11En dit het sterk takke gekry om as septers vir heersers te dien, en sy top was hoog tussen die digte takke in; en dit het hom vertoon in sy hoogte, in die menigte van sy ranke. 12Maar dit is in grimmigheid uitgeruk, teen die grond gegooi, en die oostewind het sy vrugte laat verdroog; hulle is afgeruk en het verdroog; sy sterk tak -- die vuur het dit verteer. 13En nou is dit geplant in die woestyn, in 'n dor en dorstige land. 14En vuur het uitgegaan uit sy tak vol lote, dit het sy vrugte verteer; en geen sterk tak is daarin as septer om te heers nie. 'n Klaaglied is dit, en 'n klaaglied het dit geword.