1En Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketura. 2En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en M¡dian en Jisbak en Suag gebaar. 3En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Lemmiete. 4En die seuns van M¡dian was: Efa en Efer en Henog en Ab¡da en Elda„. Hulle almal was seuns van Ketura. 5En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, 6maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. 7En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd vyf en sewentig jaar. 8Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel. 9En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magp,la, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, 10die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. 11N die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Ro‹. 12En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het -- 13dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, N,bajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam 14en Misma en Duma en Massa, 15Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. 17En dit is die lewensjare van Ismael: honderd sewe en dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. 18En hulle het gewoon van H wila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig. 19En dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak. 20En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van B,tuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. 21En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. 22En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. 23En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. 24En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar 'n tweeling in haar skoot. 25En die eerste is gebore -- rooi, geheel en al soos 'n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. 26En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte. 27En die seuns het opgegroei: Esau het 'n ervare jagter geword, 'n man van die veld; maar Jakob was 'n vredeliewende man wat in tente gewoon het. 28En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad. 29En Jakob het 'n kooksel klaargemaak en Esau het moeg uit die veld gekom. 30Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. 31En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. 32En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? 33Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. 34En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.