1Die Godspraak wat H bakuk, die profeet, gesien het. 2Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld! -- maar U help nie? 3Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. 4Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn. 5Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie. 6Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. 7Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. 8En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op 'n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos 'n arend wat op sy prooi neerskiet! 9Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand. 10Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom 'n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in. 11Dan gly hy verby, 'n wind, en trek verder -- maar word skuldig, hy wie se krag sy god is. 12Is U dan nie uit die voortyd nie, o HERE, my God, my Heilige? Ons sal nie sterwe nie. HERE, tot 'n strafoordeel het U hom bestel en, o Rots, tot 'n tugroede het U hom bestem! 13U, wat te rein is van oë om die kwaad aan te sien en die onreg nie kan aanskou nie -- waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose die verslind wat regverdiger is as hy? 14So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie. 15Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig. 16Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig. 17Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?