1Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, 2wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis. 3Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis; 4want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God. 5En Moses was wel getrou in sy hele huis as 'n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, 6maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou. 7Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, 8verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, 9waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het. 10Daarom het Ek vertoornd geword op daardie geslag en gesê: Altyd dwaal hulle met die hart. Maar hulle het my weë nie leer ken nie, 11sodat Ek in my toorn gesweer het: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. 12Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle 'n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. 13Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. 14Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; 15omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie. 16Wie was dit dan wat gehoor het en Hom verbitter het? Was dit nie almal wat onder leiding van Moses uit Egipte gegaan het nie? 17En op wie was Hy veertig jaar lank vertoornd? Was dit nie op die wat gesondig het, wie se lyke in die woestyn geval het nie? 18En aan wie het Hy gesweer dat hulle in sy rus nie sal ingaan nie, behalwe aan die ongehoorsames? 19En ons sien dat hulle deur ongeloof nie kon ingaan nie.