1Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van die bekering uit dooie werke en van die geloof in God, 2van die leer van die doop en van die handoplegging en van die opstanding van die dode en van die ewige oordeel. 3En dit sal ons doen as God dit toelaat. 4Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, 5en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, 6en afvallig geword het -- om die weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak. 7Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. 8Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking -- die einde daarvan is verbranding. 9Maar, geliefdes, ons is aangaande julle van beter dinge oortuig, dinge wat saamhang met die saligheid, al spreek ons ook so. 10Want God is nie onregverdig om julle werk te vergeet nie en die liefde-arbeid wat julle betoon het vir sy Naam, omdat julle die heiliges gedien het en nog dien. 11Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer mag toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; 12sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat deur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is. 13Want toe God aan Abraham die belofte gegee het, het Hy, omdat Hy by geen meerdere kon sweer nie, by Homself gesweer 14en gesê: Voorwaar, Ek sal jou ryklik seën en jou grootliks vermeerder. 15En so het hy die belofte verkry nadat hy geduldig gewag het. 16Want mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak. 17Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met 'n eed gewaarborg; 18sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê; 19en ons het dit as 'n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel 20waar Jesus as voorloper vir ons ingegaan het, Hy wat volgens die orde van Melgis,dek 'n hoëpriester geword het vir ewig.