1Die basuin aan jou mond! Soos 'n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het. 2My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U. 3Israel het die goeie verwerp -- die vyand sal hom agtervolg! 4Hulle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf. 5Jou kalf, o Samar¡a, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees? 6Want dit is ook uit Israel: 'n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word -- die kalf van Samar¡a. 7Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind. 8Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. 9Want hulle het opgetrek na Assur -- 'n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! -- hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf. 10Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê. 11Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig -- die altare het vir hom tot sonde geword. 12Ek het hom tien duisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag. 13Slagoffers, My aangebied, offer hulle -- vleis is dit, en hulle eet; die HERE het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte. 14Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda 'n menigte versterkte stede, daarom sal Ek 'n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer.