1Want die HERE sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Jakob. 2En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel sal hulle in die land van die HERE as besitting verwerwe, as slawe en slavinne; en hulle sal die gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers. 3En op die dag as die HERE jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het, 4dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking! 5Die HERE het die stok van die goddelose verbreek, die staf van die heersers, 6wat die volke verwoes het in grimmigheid met slaan sonder ophou, wat in toorn oor die nasies geheers het met 'n agtervolging sonder verskoning. 7Die hele aarde rus, is stil; hulle breek uit in jubel. 8Ook is die sipresse bly oor jou, die seders van die L¡banon, en hulle sê: Vandat jy daar lê, klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie. 9Die doderyk daaronder is in beroering om jou ontwil, jou koms tegemoet; dit wek om jou ontwil die skimme op, al die bokke van die aarde; dit laat al die konings van die nasies van hulle trone opstaan. 10Hulle hef almal aan en sê vir jou: Ook jy het kragteloos geword soos ons; jy het soos ons geword. 11Jou trots is neergewerp in die doderyk, die geruis van jou harpe; onder jou is wurms as 'n bed gesprei, en maaiers is jou bedekking. 12Hoe het jy uit die hemel geval, o môre ster, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! 13En jy het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. 14Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! 15Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! 16Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? 17Die wêreld soos 'n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie? 18Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis; 19maar jy is gewerp, ver van jou graf, soos 'n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas. 20Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie. 21Maak 'n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie. 22So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die HERE van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die HERE. 23En Ek sal dit 'n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die HERE van die leërskare. 24Die HERE van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand: 25om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk. 26Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies; 27want die HERE van die leërskare het dit besluit -- wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek -- wie sal dit kan afkeer? 28In die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan. 29Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal 'n basilisk voortkom, en sy vrug sal 'n vlieënde draak wees. 30En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy doodmaak. 31Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie. 32Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord? Dat die HERE Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.