1Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. 2En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. 3En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem. 4En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie. 5Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die HERE! 6Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel. 7En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie. 8Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het. 9So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie. 10Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil. 11Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die HERE alleen sal in die dag verhewe wees. 12Want 'n dag is daar vir die HERE van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word; 13en oor al die hoë en verhewe seders van die L¡banon en oor al die eikebome van Basan; 14en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels; 15en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure; 16en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke. 17Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die HERE alleen sal in die dag verhewe wees. 18En die afgode sal geheel en al verdwyn. 19En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik. 20In die dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; 21om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die HERE en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik. 22Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!