1Godspraak oor die dal van die gesig. Wat is dit dan met jou dat jy, jou hele bevolking, op die dakke geklim het, 2rumoerige, woelige stad, uitgelate vesting? Die wat in jou verslaan is, is nie deur die swaard verslaan en het nie in die oorlog gesterwe nie. 3Al jou owerstes het almal saam gevlug, sonder boog is hulle gebind; almal wat in jou gegryp is, is almal saam gebind; hulle het ver weggevlug. 4Daarom sê ek: Kyk weg van my af, dat ek bitterlik kan ween; dring nie aan om my te troos oor die verwoesting van die dogter van my volk nie; 5want dit is 'n dag van rumoer en vertrapping en verwarring deur die Here, die HERE van die leërskare, in die dal van die gesig -- omgooi van mure en geskreeu na die gebergte toe! 6En Elam het die pylkoker geneem, met waens, manskappe, ruiters; en Kir het die skild ontbloot. 7Dan word jou beste dale met strydwaens gevul, en die ruiters staan gereed in die rigting van die poort; 8en die beskutting van Juda word weggeneem. En in die dag kyk jy na die wapens in die Huis van die Bos, 9en julle sien die skeure van die stad van Dawid, dat hulle baie is, en julle vang die waters van die Onderste Dam op. 10En julle tel die huise van Jerusalem, en die huise breek julle af om die muur te versterk. 11En julle maak 'n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie. 12En in die dag roep die Here, die HERE van die leërskare, tot geween en tot rouklag en tot kaalskering en tot omgording van die roukleed; 13maar kyk, daar is vreugde en vrolikheid, beeste word doodgemaak en skape geslag, vleis geëet en wyn gedrink, met die woorde: Laat ons eet en drink, want môre sterf ons. 14Maar die HERE van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê: Waarlik, hierdie ongeregtigheid word vir julle nie versoen totdat julle sterwe nie! sê die Here, die HERE van die leërskare. 15So sê die Here, die HERE van die leërskare: Kom, gaan in by daardie bestuurder, by Sebna, wat oor die paleis aangestel is, en sê: 16Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning uithol? 17Kyk, die HERE sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger, en jou vas inmekaar rol, 18jou vas inmekaar draai soos 'n tol garing, jou soos 'n bal wegslinger na 'n land wat alkante toe wyd is; daar sal jy sterwe, en daar sal jou pronkwaens wees, o skandvlek van die huis van jou heer! 19En Ek sal jou wegstoot uit jou pos, en uit jou plek sal Hy jou wegruk. 20En in die dag sal Ek my kneg ljakim, die seun van Hilk¡a, roep; 21en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Jerusalem en vir die huis van Juda 'n vader wees. 22En Ek sal die sleutel van die huis van Dawid op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie. 23En Ek sal hom inslaan soos 'n pen in 'n vaste plek, en hy sal 'n eretroon wees vir die huis van sy vader. 24En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote, al die klein huisraad, van komme af tot allerhande kruike toe. 25In die dag, spreek die HERE van die leërskare, sal die pen padgee wat in 'n vaste plek ingeslaan is: dit word afgebreek en val, en die drag goed wat daaraan hang, raak tot niet, want die HERE het dit gespreek.