1Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die HERE nie. 2Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk. 3Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die HERE sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde. 4Want so het die HERE vir my gesê: Soos 'n leeu en 'n jong leeu knor oor sy prooi wanneer die volle getal herders teen hom bymekaargeroep word, sonder dat hy skrik vir hulle stem of ingee vir hulle geraas -- so sal die HERE van die leërskare neerdaal om in die stryd uit te trek teen die berg Sion en teen sy heuwel. 5Soos voëls wat fladder, so sal die HERE van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry. 6Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het. 7Want in die dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het. 8En Assur sal val deur die swaard, nie van 'n man nie; en die swaard, nie van 'n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jongmanne sal dienspligtig word; 9en sy rots sal uitmekaar stuif van skrik, en sy vorste sal verskrik die banier verlaat, spreek die HERE, wat 'n vuur het op Sion en 'n oond in Jerusalem.