1Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. 2Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. 3Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring. 4Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer. 5So sê God, die HERE, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel: 6Ek, die HERE, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies, 7om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit. 8Ek is die HERE, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie. 9Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor. 10Sing tot eer van die HERE 'n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af -- julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan. 11Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu! 12Laat hulle aan die HERE die eer gee en sy lof in die eilande verkondig! 13Die HERE sal uittrek soos 'n held; Hy sal die ywer opwek soos 'n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar. 14Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd. 15Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog. 16En Ek sal blindes lei op 'n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie. 17Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode -- die sal agteruitwyk, diep beskaamd staan. 18Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien. 19Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die HERE? 20Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie. 21Dit het die HERE behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak. 22En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug! 23Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms? 24Wie het Jakob oorgegee as 'n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die HERE teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie. 25Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.