1Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die HERE soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is. 2Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseënen hom vermenigvuldig. 3Want die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die HERE; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere. 4Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want 'n wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as 'n lig van die volke. 5My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop. 6Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie. 7Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie; 8want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag. 9Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die HERE! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie? 10Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie? 11So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg. 12Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? -- 13dat jy vergeet die HERE wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker? 14Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie. 15Maar Ek is die HERE jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; HERE van die leërskare is sy Naam! 16En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy! 17Ontwaak, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die HERE die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig. 18Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie. 19Hierdie twee dinge het jou oorgekom -- wie het medelyde met jou? -- verwoesting en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos? 20Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos 'n eland in 'n vangkuil, vol van die grimmigheid van die HERE, van die dreiging van jou God. 21Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie! 22So sê jou Here, die HERE, en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van my grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie. 23Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond en soos 'n straat vir die wat daaroor gaan.