1Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. 2Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion! 3Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word. 4Want so sê die Here HERE: In vroeër dae het my volk afgetrek na Egipte om daar as vreemdeling te vertoef, en Assur het hom sonder rede verdruk. 5Maar nou, wat vind Ek hier? spreek die HERE; want my volk is vir niks weggeneem, sy oorheersers maak geraas, spreek die HERE, en my Naam word gedurigdeur die hele dag gelaster. 6Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op die dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! 7Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! 8Hoor! Jou wagte! Hulle verhef die stem, hulle jubel almal saam; want hulle sien vlak voor hulle oë hoe die HERE terugkeer na Sion. 9Breek uit, jubel almal saam, puinhope van Jerusalem! Want die HERE het sy volk getroos, Jerusalem verlos. 10Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God. 11Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit, reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die HERE! 12Want julle sal nie baie haastig weggaan en nie soos vlugtelinge vertrek nie; want die HERE trek voor julle uit, en die God van Israel is julle agterhoede. 13Kyk, my Kneg sal voorspoedig wees, Hy sal hoog en verhewe, ja, baie hoog word. 14Soos baie hulle oor U verstom het -- so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos die van 'n mensekind nie -- 15so sal Hy baie nasies laat opspring, konings sal hulle mond oor Hom toehou; want wat aan hulle nie vertel is nie, sien hulle; en wat hulle nie gehoor het nie, word hulle gewaar.