1Die regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid. 2Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde -- hy wat sy reguit pad loop. 3Maar julle, kom hierheen, kinders van 'n towerheks, geslag van 'n owerspeler en van haar wat hoereer! 4Oor wie maak julle jul vrolik? Oor wie spalk julle die mond oop, steek julle die tong uit? Is julle nie kinders van oortreding, 'n leuenagtige geslag nie, 5wat verhit is by die terpentynbome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die dale, onderkant die rotsklowe? 6By die gladde klippe van die dal is jou deel; dit, dit is jou lot; ook het jy vir hulle drankoffers uitgegiet, spysoffers gebring! Sou Ek daarmee vrede hê? 7Jy het jou bed op 'n hoë en verhewe berg gemaak; ook het jy daar opgeklim om offers te bring. 8En agter die deur en die deurpos het jy jou gedenkteken gesit; want, ontrou aan My, het jy jou bed ontbloot en beklim en wyd gemaak, en jy het vir jou bepaal die loon wat van hulle moes kom; jy het hulle byslaap liefgehad, jy het die vlees gesien. 9En jy het na die koning getrek met olie en jou salf baie gemaak; en jy het jou boodskappers gestuur na ver plekke, ja, diep na die doderyk toe. 10Jy het moeg geword deur jou groot reis; tog het jy nie gesê: Dit is tevergeefs nie! Vernuwing van jou krag het jy gevind; daarom het jy nie uitgeput geraak nie. 11Maar vir wie was jy bedug en bevrees? -- want jy het 'n leuenaar geword en aan My nie gedink nie; jy het dit nie ter harte geneem nie. Is dit nie omdat Ek swyg nie, en dit baie lank al, dat jy My nie vrees nie? 12Âk sal jou geregtigheid bekend maak en jou werke, dat hulle jou geen voordeel bring nie. 13As jy skreeu, laat jou hoop gode jou red; maar die wind lig hulle almal op, 'n luggie neem hulle weg. Maar wie op My vertrou, sal die land beërwe en my heilige bergland in besit neem. 14En hulle sal sê: Vul op, vul op, berei die weg, verwyder die struikelblok uit die weg van my volk. 15Want so sê die Hoë en Verhewene wat in die ewigheid woon, Heilig is sy Naam: Ek woon in die hoogte en in die heilige plek en by die verbryselde en nederige van gees, om te laat herlewe die gees van die nederiges en te laat herlewe die hart van die verbryseldes. 16Want Ek sal nie vir ewig twis en nie vir altyd toornig wees nie, want die gees sou voor my aangesig versmag en die siele wat Ek self gemaak het. 17Ek was toornig vanweë die ongeregtigheid van hulle hebsug en het hulle geslaan terwyl Ek My toornig verberg het; ewenwel het hulle afkerig voortgegaan op hulle eie weg. 18Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk, naamlik aan hulle treuriges. 19Ek skep die vrug van die lippe; vrede, vrede vir die wat ver en die wat naby is, sê die HERE; en Ek sal hulle genees. 20Maar die goddelose is soos 'n onstuimige see; want dit kan nie tot rus kom nie, en sy waters gooi slyk en modder op. 21Geen vrede, sê my God, vir die goddelose nie!