1Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig 2-- soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel -- om u Naam aan u teƫstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe 3wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie -- as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig! 4Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U. 5U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weƫ. Kyk, U was toornig, en ons het gesondig; in die toestand was ons baie lank, en -- sal ons verlos word? 6En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. 7En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede. 8Maar nou, HERE, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand. 9HERE, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is. 10U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis. 11Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword. 12HERE, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?