1Ag, was my hoof maar water en my oog 'n fontein van trane! Dan sou ek dag en nag beween die wat verslaan is van die dogter van my volk. 2Ag, het ek in die woestyn maar 'n herberg vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, 'n hoop ontroue mense. 3En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die HERE. 4Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net 'n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery. 5En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery. 6Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die HERE. 7Daarom, so sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk? 8Hulle tong is 'n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne. 9Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die HERE. Of sou my siel hom nie wreek op 'n nasie soos hierdie een nie? 10Ek sal geween en geklaag aanhef oor die berge en 'n klaaglied oor die weivelde van die woestyn; want hulle is verwoes, sodat niemand daar deurtrek nie, en 'n mens hoor geen geluid van vee nie; die voëls van die hemel sowel as die diere -- hulle het gevlug, weggetrek. 11En Ek sal Jerusalem maak tot kliphope, 'n lêplek van jakkalse; en die stede van Juda sal Ek 'n woesteny maak, sonder inwoner. 12Wie is die wyse man wat dit kan verstaan? En met wie het die mond van die HERE gespreek, dat hy dit kan verkondig? Waarom het die land te gronde gegaan, is dit verwoes soos die woestyn, sodat niemand daar deurtrek nie? 13En die HERE het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie, 14maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Ba„ls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het, 15daarom, so sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wilde-als om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink, 16en Ek verstrooi hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het. 17So sê die HERE van die leërskare: Let op, en roep die klaagvroue, dat hulle kom; en stuur na die wyse vroue, dat hulle kom; 18en laat hulle gou maak en oor ons 'n weeklag aanhef, sodat ons oë afloop in trane en ons ooglede stroom van water. 19Want die geluid van weeklag word uit Sion gehoor: Hoe is ons verwoes! Ons het diep in die skande gekom, omdat ons die land moet verlaat, omdat hulle ons wonings omgegooi het. 20Want hoor, o vroue, die woord van die HERE, en laat julle oor opvang die woord van sy mond; en leer julle dogters 'n weeklag en vir mekaar 'n klaaglied. 21Want die dood het in ons vensters opgeklim, in ons paleise ingekom om die kinders van die straat af uit te roei, die jongmanne van die pleine af. 22Sê dit: So spreek die HERE: En die lyke van die mense sal neerval soos mis op die oop veld en soos gerwe agter die maaier sonder dat iemand dit versamel. 23So sê die HERE: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; 24maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in die dinge het Ek 'n behae, spreek die HERE. 25Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is: 26oor Egipte en Juda en Edom en oor die kinders van Ammon en Moab en oor almal wat die rand van hulle hare wegskeer, wat in die woestyn woon; want al die heidene is onbesnede, maar die hele huis van Israel is onbesnede van hart.