1Toe het Sofar, die Naämatiet, geantwoord en gesê: 2Moet die menigte van woorde onbeantwoord bly? Of moet 'n loslippige man reg hê? 3Sou jou gepraat manne laat swyg, sodat jy spot -- sonder dat iemand jou beskaamd maak -- 4en sê: Suiwer is my leer, en rein is ek in u oë? 5Maar, ag, as God maar wou spreek en sy lippe open teen jou! 6En jou bekend wou maak dat die verborgenhede van die wysheid die insig verdubbel! Sodat jy kan weet dat God vir jou 'n deel van jou skuld deur die vingers sien. 7Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige? 8Hoogtes van die hemel is dit -- wat kan jy doen? Dieper as die doderyk -- wat kan jy weet? 9Langer as die aarde is die maat daarvan en breër as die see. 10As Hy verbyskuiwe en gevange neem en 'n regsvergadering oproep -- wie sal Hom dan teëhou? 11Want Hy ken die valse mense, en Hy sien die ongeregtigheid sonder dat Hy juis daarop ag gee. 12So kan dan 'n domme verstand verkry en 'n jong wilde-esel as mens gebore word. 13As jy jou hart berei en jou hande uitbrei na Hom 14-- as daar ongeregtigheid in jou hand is, verwyder dit, en laat geen onreg in jou tente woon nie -- 15ja, dan sal jy jou aangesig kan ophef, vry van smet; en jy sal vasstaan sonder om te vrees. 16Ja, jy sal die moeite vergeet; soos aan water wat verbygeloop het, sal jy daaraan dink. 17En helderder as die middag sal die lewe oprys; is dit donker -- dit sal wees soos die môre ! 18En jy sal vertrou, want daar is verwagting; en kyk jy rond -- jy sal in veiligheid gaan slaap. 19Ook sal jy lê sonder dat iemand jou skrikmaak; en baie sal jou guns soek. 20Maar die oë van die goddelose sal versmag, en die toevlug is vir hulle verlore; en hulle verwagting is -- uitblasing van die laaste asem.