1Maar Job het geantwoord en gesê: 2Dergelike dinge het ek al baie gehoor: treurige vertroosters is julle almal. 3Kom daar nou 'n einde aan winderige woorde? Of wat prikkel jou dat jy antwoord? 4Ek sou ook kon spreek soos julle as julle siel in die plek van my siel was; ek sou woorde aanmekaar kon koppel teen julle en my hoof oor julle skud; 5ek sou julle kon versterk met my mond, en die troos van my lippe sou versagting aanbring! 6As ek sou spreek, my smart word nie versag nie; en as ek ophou -- watter verligting bring dit my? 7Maar nou het Hy my uitgeput; U het my hele huishouding verwoes. 8En U het my gegryp -- 'n getuie het dit teen my geword; en my siekte staan teen my op, dit getuig openlik teen my. 9Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan. 10Hulle het hul mond teen my oopgespalk; smadelik het hulle my op die kakebeen geslaan; soos een man versamel hulle hul teen my. 11God gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose. 12Ek het rustig gelewe; toe het Hy my verbrysel en my aan die nek gegryp en my verpletter; en Hy het my vir Hom as teiken opgestel. 13Sy pyle gons om my heen; Hy splits my niere sonder verskoning; Hy werp my gal op die grond uit. 14Bres op bres breek Hy in my; Hy loop my storm soos 'n held. 15'n Roukleed het ek oor my vel vasgewerk en my horing in die stof gesteek. 16My gesig het rooi geword van geween, en oor my ooglede is daar 'n doodskaduwee; 17alhoewel daar geen gewelddaad in my hande is nie en my gebed rein is. 18o Aarde, moenie my bloed bedek nie, en laat daar geen rusplek vir my geroep wees nie. 19Selfs nou, kyk, in die hemel is my Getuie; en Hy wat saam met my getuig, is in die hoogtes. 20My vriende spot met my; uit my oog drup trane tot God -- 21dat Hy kan pleit vir 'n man by God en as Menseseun vir sy naaste. 22Want maar min jare kom -- dan bewandel ek 'n pad waarlangs ek nie terugkeer nie.