1Maar Job het geantwoord en gesê: 2Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug. 3Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning! 4Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; 5ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê. 6Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hy sou ag op my gee. 7Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom. 8Kyk, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. 9As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie. 10Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom. 11Aan sy voetstap het my voet vasgehou; sy weg het ek bewaar sonder om uit te draai. 12Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet. 13Maar Hy bly onveranderlik Een -- wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy. 14Want Hy sal volbring wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom. 15Daarom is ek verskrik voor sy aangesig; as ek daarop ag gee, vrees ek vir Hom. 16En God het my hart week gemaak, en die Almagtige het my verskrik. 17Want ek vergaan nie vanweë die duisternis of vanweë my eie aangesig wat deur donkerheid oordek is nie.