1Waarom het die Almagtige vir Hom geen geregstye voorbehou nie, en sien die wat Hom ken, nie sy geregsdae nie? 2Grenslyne verlê hulle; 'n trop vee roof hulle en laat dit wei. 3Die esel van die wese dryf hulle weg, die bees van die weduwee neem hulle as pand. 4Hulle stoot die behoeftiges van die pad af; die ellendiges van die land kruip almal saam weg. 5Kyk, soos wilde-esels in die woestyn trek hulle uit na hul werk, terwyl hulle soek na voedsel; die wildernis lewer brood vir hulle, vir die kinders. 6Op die veld gaan hulle voer haal, en in die wingerd van die goddelose hou hulle na-oes. 7Naak bring hulle die nag deur, sonder klere, en hulle het geen bedekking teen die koue nie. 8Van die stortbui van die berge word hulle nat; en by gebrek aan skuiling druk hulle hul teen die rotse vas. 9Hulle ruk die weeskind van die bors af; en wat die arme aan het, verpand hulle. 10Naak gaan hulle heen, sonder klere; en terwyl hulle honger het, dra hulle gerwe aan. 11Tussen die mure van die mense pars hulle olie, trap die parskuipe terwyl hulle versmag van dors. 12Uit die stad kerm die manne, en die siel van die gewondes roep om hulp; tog gee God geen ag op die ongerymdheid daarvan nie. 13Sulke mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie. 14Teen dagbreek staan die moordenaar op, hy maak die arme en behoeftige dood, en in die nag is hy soos die dief. 15En die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit 'n sluier voor sy gesig. 16In die duisternis breek hulle in die huise in; bedags sluit hulle hul op; hulle ken nie die lig nie. 17Want vir hulle saam is die stikdonker 'n môrestond, want hulle ken die verskrikkinge van die stikdonker. 18Gou dryf hul voort op die oppervlakte van die water; hulle stuk grond word vervloek in die land; hulle begeef hul nie meer op pad na die wingerde nie. 19Droogte, ook hitte, roof die sneeuwater weg -- so die doderyk die wat gesondig het. 20Die moederskoot vergeet hom; die wurms eet smaaklik aan hom; aan hom word nie meer gedink nie: so word dan die onreg gebreek soos 'n stuk hout -- 21hy wat die onvrugbare plunder wat nie baar nie, en aan die weduwee geen weldaad bewys nie. 22Tog laat Hy deur sy krag die magtiges lank lewe; hy wat al van sy lewe nie seker was nie, staan weer op. 23God gee hom veiligheid, en hy steun daarop; en sy oë is op hulle weë. 24Hulle het hul verhef -- 'n kort rukkie, dan is hulle daar nie meer nie; en hulle word verneder; soos almal sterwe hulle; en soos die boonste van 'n halm word hulle afgesny. 25En is dit nou nie so nie, wie sal my van 'n leuen beskuldig en my rede tot niet maak?