1Ja, hiervoor beef my hart en spring op uit sy plek. 2Luister, luister na die gedruis van sy stem en die dreuning wat uit sy mond uitgaan. 3Onder die ganse hemel laat Hy dit los en sy lig oor die eindes van die aarde. 4Daarna brul sy stem, Hy donder met sy stem vol majesteit en hou die bliksems nie terug as sy stem gehoor word nie. 5God donder wonderbaar met sy stem; Hy doen groot dinge wat vir ons onbegryplik is. 6Want Hy gebied die sneeu: Val op die aarde! Ook die stortreën, ja, sy geweldige stortreëns. 7Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kan kom al die mense wat Hy gemaak het. 8Dan gaan die wilde diere in skuilhoeke en bly in hulle lêplekke. 9Uit sy kamer kom die stormwind, en deur die wolkverstrooiers koue. 10Deur die asem van God word ys gegee, en die wye waters lê vas in die engte. 11Ja, met volheid van water belas Hy die wolke, en Hy strooi ver en wyd sy ligtende wolk; 12en dit skiet oral rond volgens sy bestel, sodat hulle alles doen wat Hy hulle beveel oor die wye wêreldrond: 13of tot 'n tugroede, of tot nut van sy aarde, of tot weldadigheid laat Hy dit sy doel vind. 14Luister hierna, o Job! Staan stil en gee ag op die wonders van God. 15Begryp u hoe God hulle bevel gee en die lig van sy wolk laat flikker? 16Begryp u iets van die gesweef van die wolke, van die wonders van die Volmaakte in kennis? 17U, wie se klere warm word as die aarde stil is vanweë die suidewind -- 18kan u saam met Hom die hemel uitbrei wat vas is soos 'n gegote spieël? 19Onderrig ons wat ons aan Hom moet sê: ons kan niks voorbring vanweë die duisternis nie. 20Moet dit Hom vertel word dat ek wil spreek? Of het iemand ooit gesê dat hy vernietig wil word? 21En nou, 'n mens kan die lig nie aansien wat helder is in die hemel as die wind verbygegaan en dit skoongemaak het nie. 22Uit die Noorde kom goud te voorskyn, maar oor God is daar ontsagwekkende majesteit. 23Die Almagtige -- ons vind Hom nie; Hy is groot van krag, maar die reg en die volheid van geregtigheid krenk Hy nie. 24Daarom vrees die mense Hom; almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.