1Toe antwoord lifas, die Temaniet, en sê: 2As 'n mens dit met 'n woord by jou waag, sal jy ontstemd wees? Maar woorde inhou -- wie kan dit? 3Kyk, jy het baie mense tereggewys en slap hande versterk. 4Jou woorde het opgerig die wat struikel, en jy het knikkende knieë versterk. 5Maar nou dat dit jou oorkom, is jy moedverlore; nou dat dit jou tref, is jy verslae! 6Is jou Godsvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie? 7Bedink tog, wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? 8Volgens ek gesien het: Die wat onreg ploeg en moeite saai, die maai dit. 9Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig. 10Die gebrul van die leeu en die stem van die bruller -- ja, die tande van die jong leeus word uitgebreek. 11Die leeu kom om by gebrek aan prooi, en die kleintjies van die leeuin word verstrooi. 12Verder is 'n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het 'n gefluister daarvan opgevang, 13by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val. 14Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe. 15Toe skuif daar 'n gees voor my verby; die hare van my vlees het opgerys. 16Hy bly staan, maar ek kon sy gedaante nie herken nie -- 'n verskyning voor my oë! Ek hoor die gefluister van 'n stem wat sê: 17Sou 'n sterfling regverdig wees voor God? Of 'n man rein wees voor sy Maker? 18Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. 19Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos 'n mot. 20Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee. 21Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.