1Roep maar -- is daar iemand wat jou antwoord gee? En na wie van die heiliges sal jy gaan? 2Want verbitterdheid vermoor die dwaas, en naywer maak die domme dood. 3Ek self het gesien hoe 'n dwaas wortel skiet; maar skielik het ek sy woning vervloek. 4Ver is sy kinders van geluk; en hulle word verbrysel in die poort sonder dat iemand red. 5Wat hy geoes het, eet die hongerige op, en die haal dit selfs uit die doringheining uit; en die ondergang hyg na hulle rykdom. 6Want onheil kom nie voort uit die stof, en moeite spruit nie uit die grond nie. 7Maar die mens word vir moeite gebore soos die vonke boontoe vlieg. 8Maar wat my aangaan, ek sou na God vra en my saak aan die Godheid voorlê, 9aan Hom wat groot dinge doen en ondeurgrondelike, wonders sonder getal; 10wat reën gee oor die aarde en waters uitstuur oor die velde; 11om nederiges op 'n hoogte te stel daarbo; en die wat in die rou is, verkry die hoogste geluk. 12Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie; 13wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid. 14Oordag stuit hulle op duisternis, en soos in die nag tas hulle rond op die middag. 15So verlos Hy dan van die swaard wat kom uit hulle mond, en die behoeftige uit die hand van die sterk man. 16So is daar dan verwagting vir die arme; en ongeregtigheid hou die mond toe. 17Kyk, gelukkig is die man wat God kasty; verwerp daarom die tugtiging van die Almagtige nie. 18Want Hy doen smart aan, maar verbind ook; Hy verbrysel, maar sy hande maak gesond. 19In ses benoudhede sal Hy jou red, ja, in sewe sal geen onheil jou tref nie. 20In hongersnood verlos Hy jou van die dood en in die oorlog uit die mag van die swaard. 21As die tong g,sel, word jy weggesteek; en jy hoef nie te vrees vir verwoesting as dit kom nie. 22Oor verwoesting en broodsgebrek sal jy lag, en vir die wilde diere van die aarde hoef jy nie te vrees nie. 23Want met die klippe van die veld is jou verbond, en die wilde diere van die veld is met jou bevriend. 24En jy sal uitvind dat jou tent in vrede is; en as jy op jou woonplek rondkyk, sal jy niks vermis nie. 25Ook sal jy uitvind dat jou kroos talryk is en jou nakomelinge soos die plante van die aarde. 26Op rype leeftyd sal jy na die graf gaan, soos 'n koringgerf ingebring word op sy tyd. 27Kyk, dit het ons nagespeur, so is dit; hoor dit, en neem jy dit ter harte.