1Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van 'n ander kant af inklim, hy is 'n dief en 'n rower. 2Maar hy wat by die deur ingaan, is 'n herder van die skape. 3Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. 4En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie. 6Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie. 7Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. 10Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê. 11Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12Maar die huurling en hy wat nie 'n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar. 13En die huurling vlug, omdat hy 'n huurling is en niks vir die skape omgee nie. 14Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken. 15Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. 16Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder. 17Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. 18Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang. 19Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde. 20En baie van hulle het gesê: Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom? 21Ander het gesê: Hierdie woorde is nie van 'n besetene nie; 'n duiwel kan tog nie die oë van blindes open nie. 22En dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. 23En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo. 24En die Jode het Hom omring en vir Hom gesê: Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit. 25Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, die getuig van My. 26Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. 27My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. 28En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. 29My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. 30Ek en die Vader is een. 31Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. 32Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van die werke stenig julle My? 33Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor 'n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat 'n mens is, Uself God maak. 34Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? 35As dit hulle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, 36sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik -- omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? 37As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; 38maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom. 39Toe het hulle weer probeer om Hom gevange te neem, en Hy het uit hulle hand ontkom. 40En Hy het weer oor die Jordaan gegaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en Hy het daar gebly. 41En baie het na Hom gekom en gesê: Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar. 42En baie het daar in Hom geglo.