1Maar Jona was hieroor erg ontstemd, en hy het kwaad geword. 2Toe bid hy tot die HERE en sê: Ag, HERE, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U 'n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. 3o HERE, neem dan nou tog my siel van my weg, want dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. 4Daarop sê die HERE: Het jy rede om vertoornd te wees? 5En Jona het die stad verlaat en aan die oostekant van die stad gaan sit. Daar maak hy toe vir hom 'n skerm, en hy gaan daaronder in die skaduwee sit, totdat hy sou sien wat met die stad gebeur. 6Toe beskik die HERE God 'n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy ontstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom. 7Maar God het die volgende môre toe die dag breek, 'n wurm beskik; en die het die wonderboom gesteek, sodat dit verdor het. 8En met sonop het God 'n gloeiende oostewind beskik; en toe die son op die hoof van Jona steek, het hy magteloos geword en gewens dat hy mag sterwe, en gesê: Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe. 9Toe sê God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? En hy antwoord: Ek het rede om vertoornd te wees tot die dood toe. 10Verder sê die HERE: Jy wil die wonderboom spaar waar jy geen arbeid aan bestee het nie en wat jy nie grootgemaak het nie, wat in een nag ontstaan en in een nag vergaan het. 11Maar Ek mag Ninev,, die groot stad, nie spaar nie waarin meer as honderd en twintig duisend mense is wat die onderskeid tussen hulle regter-- en hulle linkerhand nie weet nie, en baie vee?