1Daarop het Josua die môre vroeg klaargemaak, en hy met al die kinders van Israel het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom en daar die nag oorgebly voordat hulle deurgetrek het. 2En aan die einde van drie dae het die opsigters die laer deurgegaan 3en aan die volk bevel gegee en gesê: Net soos julle die verbondsark van die HERE julle God sien en die Levitiese priesters wat hom dra, moet julle van jul staanplek af opbreek en agter hom aan trek. 4Maar laat daar 'n afstand van omtrent twee duisend el tussen julle en hom wees; kom nie naby hom nie; sodat julle die pad kan weet waar julle langs moet trek; want gister en eergister het julle nie met die pad getrek nie. 5Verder het Josua aan die volk gesê: Heilig julle; want môre sal die HERE wonders onder julle doen. 6En Josua het met die priesters gespreek en gesê: Neem die verbondsark op en trek weg voor die volk uit; toe het hulle die verbondsark opgeneem en voor die volk uit getrek. 7Daarop sê die HERE vir Josua: Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het. 8Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan. 9Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die HERE julle God. 10Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar 'n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kana„niete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe: 11Kyk, die verbondsark van die HERE van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in. 12Neem dan nou vir julle twaalf manne uit die stamme van Israel, een man uit elke stam; 13en net soos die voetsole van die priesters wat die ark van die HERE, die Here van die hele aarde, dra, in die water van die Jordaan rus, sal die water van die Jordaan afgekeer word -- die water wat van die bokant afkom, en dit sal soos een wal bly staan. 14En toe die volk wegtrek uit hulle tente om deur die Jordaan te gaan, met die priesters wat die verbondsark dra, op die voorpunt van die volk, 15en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes, 16bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor J,rigo. 17Maar die priesters wat die verbondsark van die HERE gedra het, het onbeweeglik bly staan op droë grond binne-in die Jordaan, terwyl die hele Israel op droë grond deurtrek, totdat die hele volk die deurtog deur die Jordaan voleindig het.