1Dink, HERE, aan wat oor ons gekom het, sien en aanskou ons smaad. 2Ons erfdeel het na vreemdes oorgegaan, ons huise na uitlanders. 3Ons het wese geword, sonder 'n vader, ons moeders is soos weduwees. 4Ons water drink ons vir geld, ons hout kom teen betaling in. 5Ons vervolgers is op ons nek; ons is afgemat sonder dat daar rus aan ons gegun word. 6Na Egipte het ons die hand uitgestrek, na Assur om met brood versadig te word. 7Ons vaders het gesondig; hulle is daar nie meer nie, en ons dra hulle ongeregtighede. 8Knegte heers oor ons, niemand ruk ons uit hulle hand weg nie. 9Met lewensgevaar bring ons ons brood in vanweë die swaard van die woestyn. 10Ons vel gloei soos 'n oond vanweë die gloed van die honger. 11Hulle het vroue in Sion onteer, jonkvroue in die stede van Juda. 12Vorste is deur hulle hand opgehang, die persoon van die grysaards nie geëer nie. 13Jongmanne dra die handmeul, en seuns struikel onder die drag hout. 14Die oudstes is nie meer in die poort nie, die jongmanne sonder hulle snarespel. 15Die vreugde van ons hart het opgehou, ons koordans het in treurigheid verander. 16Die kroon van ons hoof het geval; wee ons, dat ons gesondig het. 17Hierom het ons hart krank geword, hierom is ons oë verduister: 18ter wille van die berg Sion wat woes lê, waar die jakkalse op rondloop. 19U, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag. 20Waarom sou U ons vir altyd vergeet, ons verlaat tot in lengte van dae? 21Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. 22Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?