1Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: 2Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand 'n besondere gelofte aflê mense aan die HERE toewy volgens jou skatting, 3dan moet jou skatting vir 'n manspersoon van twintig tot sestig jaar, dan moet jou skatting vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die heiligdom. 4Maar is dit 'n vrou, dan moet jou skatting dertig sikkels wees. 5En is dit iemand van vyf tot twintig jaar, dan moet jou skatting vir 'n manspersoon twintig sikkels wees en vir 'n vroulike tien sikkels. 6Maar is dit iemand van 'n maand oud tot vyf jaar, dan moet jou skatting vir die manlike geslag vyf sikkels silwer wees en jou skatting vir die vroulike drie sikkels silwer. 7En is dit iemand van sestig jaar oud en daarbo is dit 'n manspersoon, dan moet jou skatting vyftien sikkels wees en vir 'n vrou tien sikkels. 8Maar as hy te arm is vir die geskatte bedrag, moet hy voor die priester gestel word, sodat die priester hom kan skat; volgens wat hy kan bekostig wat die gelofte gedoen het, moet die priester hom skat. 9En as dit vee is waarvan hulle aan die HERE 'n offer kan bring, moet alles wat hy daarvan aan die HERE gee, heilig wees. 10Hy mag dit nie omwissel of omruil nie 'n goeie vir 'n slegte of 'n slegte vir 'n goeie nie; maar as hy tog 'n dier vir 'n ander een omruil, moet dit en die geruilde heilig wees. 11En as dit enige onrein stuk vee is waarvan hulle aan die HERE geen offer mag bring nie, moet hy die dier voor die priester stel, 12en die priester moet dit skat of dit goed of sleg is; na jou skatting, priester, so sal dit wees. 13Maar as hy dit wil los, moet hy die vyfde deel daarvan bo jou skatting byvoeg. 14En as iemand sy huis as heilige gawe aan die HERE toewy, moet die priester dit skat of dit goed of sleg is; soos die priester dit skat, so moet dit bly. 15En as hy wat dit geheilig het, sy huis wil los, moet hy die vyfde deel van die geld van jou skatting daar byvoeg; dan sal dit syne wees. 16En as iemand 'n stuk land van sy besitting aan die HERE heilig, moet jou skatting wees volgens die saad wat gesaai word: 'n homer garssaad op vyftig sikkels silwer. 17As hy sy stuk land van die jubeljaar af heilig volgens jou skatting, so moet dit bly. 18Maar as hy sy stuk land n die jubeljaar heilig, moet die priester vir hom die geld bereken na die jare wat tot die volgende jubeljaar oor is; en dit moet van jou skatting afgetrek word. 19En as hy wat die stuk land geheilig het, dit beslis wil los, moet hy die vyfde deel van die geld van jou skatting daar byvoeg; en dit sal syne bly. 20En as hy die stuk land nie los nie, of as hy die stuk land aan 'n ander verkoop, mag dit nie meer gelos word nie; 21maar die stuk land moet, as dit in die jubeljaar vry word, aan die HERE heilig wees soos 'n stuk land onder die ban; die besit daarvan kom aan die priester toe. 22En as hy aan die HERE 'n stuk land heilig wat hy gekoop het, wat nie van die land van sy besitting is nie, 23moet die priester vir hom die bedrag van die skatting tot die jubeljaar bereken; en hy moet op dieselfde dag die skatting gee as 'n heilige gawe aan die HERE. 24In die jubeljaar moet die stuk land terugkom aan hom van wie hy dit gekoop het, aan hom wat in besit was van die stuk land. 25En alles wat jy skat, moet volgens die sikkel van die heiligdom wees; die sikkel moet twintig gera wees. 26Maar die eersgeborene van 'n dier wat as eersgeborene aan die HERE behoort, dit mag niemand heilig nie; of dit 'n bees is of 'n stuk kleinvee dit behoort aan die HERE. 27Maar is dit van 'n onrein dier, dan moet hy dit na jou skatting loskoop en die vyfde deel daarvan byvoeg; en as dit nie gelos word nie, moet dit na jou skatting verkoop word. 28Maar niks van die bangoed wat iemand aan die HERE wy, van alles wat aan hom behoort mense of vee of grond wat in sy besit is mag verkoop of gelos word nie. Al die bangoed moet aan die HERE hoogheilig wees. 29Elkeen wat onder die ban is, wat onder die mense met die ban getref is, mag nie losgekoop word nie; hy moet sekerlik gedood word. 30Ook al die tiendes van die land, van die graan van die land, van die vrugte van die bome, behoort aan die HERE; dit is heilig aan die HERE. 31Maar as iemand van sy tiende iets wil los, moet hy die vyfde deel daarvan byvoeg. 32Wat betref al die tiendes van beeste en kleinvee alles wat onder die herderstaf deurgaan die tiende moet aan die HERE heilig wees. 33Hulle mag nie ondersoek of dit goed of sleg is nie, en dit nie omruil nie; maar as hulle dit tog omruil, moet dit en die geruilde heilig wees; dit mag nie gelos word nie. 34Dit is die gebooie wat die HERE Moses by die berg Sinai vir die kinders van Israel beveel het.