1En Hy het nog 'n maal by die see begin leer; en 'n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die land by die see. 2En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en vir hulle in sy lering gesê: 3Luister! 'n Saaier het uitgegaan om te saai. 4En terwyl hy saai, het 'n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. 5En 'n ander deel het op 'n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. 6En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog. 7En 'n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie. 8En 'n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig. 9En Hy sê vir hulle: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor. 10En toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom na die gelykenis gevra. 11En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, 12sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie. 13En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan? 14Die saaier saai die woord. 15En dit is hulle wat langs die pad is -- waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is. 16Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word -- wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, 17maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir 'n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik. 18En hulle by wie in die dorings gesaai word -- dit is hulle wat die woord hoor, 19en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar. 20En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is -- hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig-- en een sestig-- en een honderdvoudig. 21En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? 22Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. 23As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. 24En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. 25Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 26En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer 'n mens die saad in die grond gooi; 27en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot -- hoe, weet hy self nie. 28Want vanself bring die aarde vrug voort, eers 'n halm, dan 'n aar, dan die volle koring in die aar. 29En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is. 30En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? 31Dit is soos 'n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; 32en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. 33En met baie sulke gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon verstaan; 34en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê. 35En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. 36En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. 37En 'n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. 38Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? 39En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het 'n groot stilte gekom. 40Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? 41En 'n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!