1En die Fariseërs en sommige van die skrifgeleerdes wat van Jerusalem gekom het, het by Hom saamgekom; 2en toe hulle sommige van sy dissipels met onrein, dit is met ongewaste, hande sien brood eet, het hulle dit afgekeur. 3Want die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense. 4En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed en bedde. 5Daarop stel die Fariseërs en die skrifgeleerdes Hom die vraag: Waarom wandel u dissipels nie ooreenkomstig die oorlewering van die ou mense nie, maar eet brood met ongewaste hande? 6En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. 7Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. 8Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: die wassery van kanne en bekers, en ander dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. 9En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. 10Want Moses het gesê: Eer jou vader en jou moeder; en: Hy wat vader of moeder vloek, moet sekerlik sterwe. 11Maar julle sê: As 'n mens aan vader of moeder sê: Enige voordeel wat u van my mag geniet, is korban, dit is 'n offergawe -- 12dan laat julle hom nie meer toe om iets vir sy vader of sy moeder te doen nie. 13So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. 14En Hy het die hele skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister almal na My en verstaan. 15Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, d¡t is die dinge wat die mens onrein maak. 16As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor! 17En toe Hy van die skare af in 'n huis gekom het, vra sy dissipels Hom oor die gelykenis. 18En Hy sê vir hulle: Is julle ook so sonder verstand? Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, 19omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit en maak al die voedsel rein? 20En Hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. 21Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, 22diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. 23Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein. 24En Hy het opgestaan en daarvandaan na die gebied van Tirus en Sidon vertrek. En toe Hy in die huis gegaan het, wou Hy nie dat iemand dit sou weet nie; maar Hy kon nie verborge bly nie. 25Want 'n vrou wie se dogtertjie 'n onreine gees gehad het, het van Hom gehoor en gekom en voor sy voete neergeval. 26En sy was 'n Griekse vrou, 'n Siro-Feniciese van geboorte, en sy het Hom gevra om die duiwel uit haar dogter uit te dryf. 27Maar Jesus sê vir haar: Laat eers die kinders versadig word; want dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en vir die hondjies te gooi nie. 28En sy antwoord en sê vir Hom: Ja, Here, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels. 29En Hy sê vir haar: Ter wille van hierdie woord kan jy gaan; die duiwel het uit jou dogter uitgevaar. 30En toe sy huis toe gaan, vind sy dat die duiwel uitgevaar het en dat haar dogter op die bed lê. 31En Hy het weer uit die gebied van Tirus en Sidon vertrek en na die see van Galil,a gegaan, deur die gebied van Dek polis. 32Toe bring hulle na Hom 'n dowe wat swaar praat, en smeek Hom om hom die hande op te lê. 33En Hy neem hom opsy, weg van die skare, en steek sy vingers in sy ore, en spuug en raak sy tong aan; 34en nadat Hy opgekyk het na die hemel, sug Hy en sê aan hom: Âffata, dit is: Gaan oop! 35En dadelik het sy ore oopgegaan en die band van sy tong losgeraak, en hy het reg gepraat. 36En Hy het hulle beveel om dit aan niemand te sê nie; maar hoe meer Hy hulle dit beveel, hoe meer hulle dit verkondig. 37En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.