1En Hy sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God met krag sien kom het nie. 2En n ses dae het Jesus vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op 'n hoë berg in die eensaamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander, 3en sy klere het blink geword, baie wit soos sneeu, wit soos geen bleiker op aarde dit kan maak nie. 4En daar het aan hulle verskyn El¡a saam met Moses, en hulle was in gesprek met Jesus. 5Toe spreek Petrus en sê vir Jesus: Rabbi, dit is goed dat ons hier is. Laat ons dan drie hutte maak: vir U een en vir Moses een en vir El¡a een. 6Want hy het nie geweet wat om te sê nie, want hulle was heeltemal verskrik. 7En daar kom 'n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom 'n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom! 8En meteens kyk hulle rond en sien niemand meer by hulle nie, behalwe Jesus alleen. 9En onderwyl hulle van die berg afklim, gee Hy aan hulle bevel om aan niemand te vertel wat hulle gesien het voordat die Seun van die mens uit die dode opgestaan het nie. 10En hulle het die woord vir hulleself gehou en onder mekaar gevra wat dit beteken om uit die dode op te staan. 11En hulle vra Hom en sê: Waarom sê die skrifgeleerdes dat El¡a eers moet kom? 12Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Dis waar, El¡a kom eers om alles te herstel; en tog, hoe staan daar dan van die Seun van die mens geskrywe dat Hy baie moet ly en verag word? 13Maar Ek sê vir julle dat El¡a al gekom het, en hulle het aan hom gedoen alles wat hulle wou, soos van hom geskrywe is. 14En toe Hy by die dissipels kom, sien Hy 'n groot menigte om hulle, en skrifgeleerdes wat met hulle redetwis. 15En dadelik toe die hele skare Hom sien, was hulle baie verbaas en het na Hom gehardloop en Hom gegroet. 16Daarop vra Hy die skrifgeleerdes: Waarom redetwis julle met hulle? 17En een uit die skare antwoord en sê: Meester, ek het my seun wat 'n stomme gees het, na U gebring; 18en waar hy hom ook aangryp, skeur hy hom; en hy kry skuim in die mond, en hy kners met sy tande en word styf; en ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie. 19Toe antwoord Hy hom en sê: o Ongelowige geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom na My toe. 20En hulle bring hom na Hom toe; en toe hy Hom sien, laat die gees hom dadelik stuiptrekkings kry, en hy val op die grond neer en rol rond met skuim in die mond. 21Daarop vra Hy sy vader: Hoe lank is dit al dat dit hom oorgekom het? En hy sê: Van sy kindsdae af; 22en dikwels het hy hom selfs in die vuur en in die water gegooi om hom dood te maak. Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons. 23En Jesus sê vir hom: Wat dit betref -- as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. 24En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! 25En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie. 26En nadat hy geskreeu en hom baie stuiptrekkings laat kry het, het hy uitgegaan. En die seun het soos 'n dooie geword, sodat baie gesê het: Hy is dood. 27Maar Jesus het hom by die hand gegryp en hom opgerig; en hy het opgestaan. 28En toe Hy in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik: Waarom kon ons hom nie uitdrywe nie? 29En Hy sê vir hulle: Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie. 30En hulle het daarvandaan weggegaan en verbygetrek deur Galil,a; en Hy wou nie hê dat iemand dit moes weet nie. 31Want Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van die mense, en hulle sal Hom doodmaak; en nadat Hy gedood is, sal Hy die derde dag opstaan. 32En hulle het die gesegde nie verstaan nie en was bang om Hom uit te vra. 33En Hy het in Kap,rnam gekom; en toe Hy in die huis was, vra Hy hulle: Wat het julle op die pad met mekaar geredeneer? 34Maar hulle het stilgebly; want hulle het op die pad met mekaar gepraat oor wie die grootste is. 35En toe Hy gaan sit het, roep Hy die twaalf en sê vir hulle: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees. 36En Hy neem 'n kindjie en laat hom in hul midde staan en slaan sy arms om hom en sê vir hulle: 37Elkeen wat een van sulke kindertjies ontvang in my Naam, ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar Hom wat My gestuur het. 38Toe antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie. 39Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat 'n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie; 40want wie nie teen ons is nie, is vir ons. 41Want elkeen wat vir julle in my Naam 'n beker water gee om te drink, omdat julle aan Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie. 42En elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is beter vir hom as 'n meulsteen om sy nek gehang en hy in die see gegooi word. 43En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, 44waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. 45En as jou voet jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om kreupel die lewe in te gaan, as om twee voete te hê en in die hel gewerp te word in die onuitbluslike vuur, 46waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. 47En as jou oog jou laat struikel, pluk dit uit. Dit is beter vir jou om met een oog die koninkryk van God in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word, 48waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. 49Want elkeen sal met vuur gesout word en elke offerande sal met sout gesout word. 50Die sout is goed, maar as die sout souteloos word, waarmee sal julle dit smaaklik maak? Julle moet sout in julle hê en vrede hou met mekaar.