1En daar het 'n groot geroep van die volk en van hulle vroue ontstaan teen hulle broers, die Jode; 2en sommige het gesê: Ons seuns en ons dogters, ons is baie; ons wil koring hê, dat ons kan eet en lewe! 3En ander het gesê: Ons lande en ons wingerde en ons huise moes ons verpand, sodat ons koring kon koop in die hongersnood! 4En ander weer het gesê: Ons het op ons lande en ons wingerde geld geleen vir die belasting aan die koning. 5En nou, ons vlees is soos die vlees van ons broers en ons kinders soos hulle kinders, en tog moet ons nou ons seuns en ons dogters tot slawe verneder, en van ons dogters is al verneder sonder dat ons daar iets aan kan doen, en ons lande en ons wingerde behoort aan ander. 6En ek was baie verontwaardig toe ek hulle geroep en hierdie woorde hoor. 7En ek het by myself beraadslaag en met die edeles en die leiers getwis en aan hulle gesê: Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy broer! En ek het 'n groot vergadering teen hulle belê 8en aan hulle gesê: Ons het ons Joodse broers wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog verkoop julle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop. En hulle het geswyg en geen antwoord gevind nie. 9Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie? 10Ek self, my broers en my mense het ook aan hulle geld en koring geleen; laat ons tog hierdie lening kwytskeld. 11Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan hulle geleen het. 12Daarop sê hulle: Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het. En ek het die priesters geroep en hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel. 13Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die HERE geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel. 14Ook van die dag af dat ek aangestel is om hulle goewerneur te wees in die land Juda, van die twintigste jaar af tot die twee en dertigste jaar van koning Artas sta, twaalf jaar lank, het ek en my broers die brood van goewerneurs nie geëet nie; 15terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie. 16En ook by die werk aan hierdie muur het ek volhard sonder dat ons grond aangeskaf het, terwyl tog al my mense daar by die werk versamel was. 17En die Jode, die leiers, honderd en vyftig man, sowel as die wat uit die heidene rondom ons na ons toe gekom het, was aan my tafel. 18En wat vir elke dag berei is -- een bees, ses uitgesoekte stuks kleinvee en voëls -- is berei op my koste, en elke tien dae allerhande soorte wyn in oorvloed; en daarby het ek tog die brood van goewerneurs nie begeer nie, omdat die diens swaar was op hierdie volk. 19Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!