1Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: 2Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: Julle moet daarvoor sorg om my offer, my spys vir my vuuroffers as lieflike geur vir My, op die bepaalde tyd aan My te bring. 3En jy moet vir hulle sê: Dit is die vuuroffer wat julle aan die HERE moet bring: twee jaaroud lammers sonder gebrek elke dag as 'n voortdurende brandoffer. 4Die een lam moet jy in die môre berei, en die ander lam moet jy teen die aand berei; 5met 'n tiende van 'n efa fynmeel as spysoffer, gemeng met 'n kwart-hin uitgestampte olie. 6Dit is die voortdurende brandoffer wat by die berg Sinai ingestel is as lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. 7En die drankoffer wat daarby behoort, moet wees 'n kwart-hin vir elke lam. In die heiligdom moet jy die drankoffer van sterk drank aan die HERE uitgiet. 8En die ander lam moet jy teen die aand berei; met dieselfde spysoffer as in die môre en met die drankoffer wat daarby behoort, moet jy dit berei -- 'n vuuroffer van lieflike geur aan die HERE. 9Maar op die sabbatdag twee jaaroud lammers sonder gebrek en twee-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, en die drankoffer wat daarby behoort. 10Dit is die brandoffer van die sabbat op elke sabbat, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort. 11En by die begin van julle maande moet julle 'n brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram, sewe jaaroud lammers sonder gebrek; 12en drie-tiendes van 'n efa fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke bul, en twee tiendes fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir die een ram; 13en een-tiende fynmeel as spysoffer, met olie gemeng, vir elke lam. Dit is 'n brandoffer, 'n lieflike geur, 'n vuuroffer aan die HERE. 14En hulle drankoffers moet wees 'n half-hin wyn vir 'n bul en 'n derde van 'n hin vir 'n ram en 'n kwart-hin vir 'n lam. Dit is die brandoffer by elke nuwemaan, vir die maande van die jaar. 15Ook moet een bokram as sondoffer aan die HERE berei word, behalwe die voortdurende brandoffer en die drankoffer wat daarby behoort. 16En in die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, is die pasga van die HERE. 17En op die vyftiende dag van hierdie maand is dit fees; sewe dae lank moet ongesuurde brode geëet word. 18Op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees; g,,n beroepswerk mag julle doen nie. 19Maar julle moet as vuuroffer, as brandoffer aan die HERE bring: twee jong bulle en een ram en sewe jaaroud lammers; sonder gebrek moet hulle vir julle wees. 20En hulle spysoffer fynmeel met olie gemeng: drie-tiendes van 'n efa vir 'n bul en twee-tiendes vir 'n ram moet julle berei. 21Een-tiende moet jy vir elke lam van die sewe lammers berei. 22Daarby een bokram as sondoffer om vir julle versoening te doen. 23Behalwe die môre brandoffer, wat as voortdurende brandoffer dien, moet julle dit berei. 24Op die manier moet julle elke dag, sewe dae lank, die vuurofferspys van lieflike geur vir die HERE berei; by die voortdurende brandoffer moet dit berei word -- en die drankoffer wat daarby behoort. 25En op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; g,,n beroepswerk mag julle doen nie. 26En op die dag van die eerstelinge, as julle 'n nuwe spysoffer by julle fees van die weke aan die HERE bring, moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; g,,n beroepswerk mag julle doen nie. 27Dan moet julle 'n brandoffer as lieflike geur aan die HERE bring: twee jong bulle, een ram, sewe jaaroud lammers; 28en hulle spysoffer: fynmeel met olie gemeng, drie-tiendes vir elke bul, twee-tiendes vir die een ram, 29een-tiende vir elke lam van die sewe lammers; 30een bokram om vir julle versoening te doen. 31Behalwe die voortdurende brandoffer en die spysoffer wat daarby behoort, moet julle dit berei -- hulle moet vir julle sonder gebrek wees -- en hulle drankoffers.