1Verder, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. 2Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. 3Want ons is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; 4alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, 'n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, 'n Fariseër; 6wat ywer betref, 'n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. 7Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met die wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 13Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 14Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 15Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. 16Maar wat ons reeds bereik het -- laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees. 17Wees ook my navolgers, broeders, en let op die wat so wandel soos julle ons tot voorbeeld het. 18Want baie -- van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê -- wandel as vyande van die kruis van Christus. 19Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge. 20Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, 21wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp.