1Een wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom. 2Die goeie verkry 'n welbehae van die HERE, maar Hy veroordeel 'n slinkse man. 3Geen mens kan deur goddeloosheid bestaan nie, maar die wortel van die regverdiges wankel nie. 4'n Deugsame vrou is die kroon van haar man, maar een wat skande maak, is soos 'n verrotting in sy gebeente. 5Die gedagtes van die regverdiges is wat reg is, die slim planne van die goddelose is bedrog. 6Die woorde van die goddelose is om te loer op bloed, maar die mond van die opregtes red hulle. 7Die goddelose mense word omgekeer, en hulle is daar nie meer nie; maar die huis van die regverdiges bly staan. 8Ooreenkomstig sy insig word 'n man geprys; maar 'n verkeerde van hart sal verag word. 9Wie gering geag word en 'n slaaf het, is beter as hy wat hom vernaam aanstel en gebrek aan brood het. 10Die regverdige ken die natuur van sy dier, maar die barmhartigheid van die goddelose is wreed. 11Wie sy land bewerk, het volop brood; maar hy wat nietighede najaag, het gebrek aan verstand. 12Die goddelose begeer die vangs van verkeerde dinge, maar die wortel van die regverdiges lewer vrugte op. 13In die oortreding van die lippe lê daar 'n gevaarlike strik; maar die regverdige ontkom aan die benoudheid. 14Uit die vrug van iemand se mond word hy versadig met die goeie, en die daad van 'n mens se hande kom op hom terug. 15Die weg van 'n dwaas is reg in sy eie oë, maar die wyse luister na raad. 16Die dwaas laat sy drif op die daad bekend word, maar die skrandere verberg skande. 17Hy wat die waarheid spreek, vertel wat reg is; maar 'n valse getuie bedrog. 18Daar is een wat onverskillig woorde uitspreek soos swaardsteke, maar die tong van die wyse is genesing. 19'n Betroubare lip bestaan vir altyd, maar 'n valse tong vir 'n oomblik. 20Bedrog is in die hart van die wat onheil bewerk; maar die wat vrede aanraai, het vreugde. 21Geen enkele onheil tref die regverdige nie, maar die goddelose is vol ongeluk. 22Valse lippe is vir die HERE 'n gruwel, maar Hy het 'n welbehae in die wat getrou handel. 23'n Skrander mens verberg sy kennis, maar die hart van die dwase roep hulle sotheid uit. 24Die hand van die vlytiges sal heers, maar traagheid lei tot dwangarbeid. 25Bekommernis in die hart van 'n mens druk dit neer, maar 'n vriendelike woord vrolik dit op. 26Die regverdige vind sy weide uit, maar die weg van die goddelose laat hulle dwaal. 27Hy wat traag is, jaag sy wild nie op nie, maar vlyt is 'n kosbare skat vir 'n mens. 28Op die pad van geregtigheid is lewe, en die rigting van die pad is onsterflikheid.