1Hoor, julle seuns, na die tug van die vader, en luister om insig te leer ken; 2want ek gee aan julle goeie lering, verlaat my onderwysing nie. 3Want toe ek 'n seun was by my vader, teer en 'n enigste voor my moeder, 4het hy my geleer en vir my gesê: Laat jou hart my woorde vashou; onderhou my gebooie, dan sal jy lewe. 5Verkry wysheid, verkry insig; vergeet nie en wyk nie af van die woorde van my mond nie: 6verlaat dit nie, dan sal dit jou bewaar; kry dit lief, dan sal dit jou bewaak. 7Die beginsel van die wysheid is: Verwerf wysheid en verwerf insig deur al wat jy besit. 8Hou dit hoog, dan sal dit jou verhoog; dit sal jou eer as jy dit omhels. 9Dit sal 'n lieflike krans gee vir jou hoof, dit sal jou 'n sierlike kroon verskaf. 10Hoor, my seun, en neem my woorde aan; dan sal die lewensjare vir jou vermeerder word. 11In die weg van die wysheid onderrig ek jou, ek laat jou die spore van opregtheid betree; 12as jy loop, sal jou treë nie belemmer word nie, en as jy hardloop, sal jy nie struikel nie. 13Hou vas aan die tug, laat dit nie los nie; bewaar dit, want dit is jou lewe. 14Kom nie op die pad van die goddelose en betree die weg van die slegtes nie. 15Vermy dit, gaan nie daarop nie, wyk daarvan af en gaan verby; 16want hulle kan nie slaap as hulle geen kwaad doen nie; en hulle slaap is weg as hulle nie tot 'n val bring nie. 17Want hulle eet brood van goddeloosheid en drink wyn van gewelddadigheid. 18Terwyl die pad van die regverdiges is soos die lig van die môre glans, wat al helderder word tot die volle dag toe, 19is die weg van die goddelose soos duisternis: hulle weet nie waaroor hulle sal struikel nie. 20My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, 21laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. 22Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en 'n genesing vir hulle hele liggaam. 23Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe. 24Verwyder van jou die valsheid van mond, en hou ver van jou af die verkeerdheid van lippe. 25Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou. 26Maak die pad van jou voet gelyk, en laat al jou weë vas wees, 27wyk nie regs of links af nie, hou jou voet ver van boosheid.