1En ek het 'n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met 'n wolk, en 'n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur; 2en in sy hand het hy 'n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land; 3en hy het met 'n groot stem uitgeroep soos 'n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor. 4En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het 'n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie. 5En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, 6en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; 7maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete. 8En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan. 9En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning. 10Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword. 11En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.