1En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. 2En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. 3En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. 4En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. 5En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar. 6En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Om,ga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. 7Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom 'n God wees, en hy sal vir My 'n seun wees. 8Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood. 9En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. 10En hy het my in die gees weggevoer op 'n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; 11en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos 'n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen. 12En dit het 'n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik die van die twaalf stamme van die kinders van Israel. 13Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte. 14En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. 15En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet. 16En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend vyf honderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. 17En hy het sy muur gemeet op honderd vier en veertig el, volgens 'n mens se maat, wat die maat van 'n engel is. 18En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas. 19En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; 20die vyfde sardoniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chr¡sopraas, die elfde hias¡nt, die twaalfde amet¡s. 21En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas. 22En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. 23En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. 24En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. 25En bedags want nag sal daar nie meer wees nie sal sy poorte nooit gesluit word nie; 26en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring. 27En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.